1. Ken jou skadu – Is dit vol- of halfskadu, droog of klam? Die grond onder bome kry dikwels min reën en kan daarom redelik droog wees. In gebiede met ’n hoë reënval kan die grond onder bome weer klam wees. Daar is egter plante wat by albei omgewings kan aanpas. Volskadu weens mure of geboue beperk jou keuse van plante. Die meeste skaduplante groei in die natuur op die woudvloer, teen rotswande of teen steil hellings. Dit beteken hulle sal gefiltreerde of net enkele ure sonlig per dag kry. Van hulle sal in volskadu groei, maar dan sal hulle nie so geredelik blom nie.
2. Bewerk jou grond – As daar hope blare onder bome lê, moet dit nie verwyder nie. Dit beskerm die grond en sal uiteindelik afbreek en kompos word. Maak die grond net los en strooi ’n stewige laag kompos en organiese bemesting soos Bounce Back (www.neutrog.co.za) voordat jy plant. Bemesting met gips soos Soil Build (www.naturalgardeningprinciples.co.za) sal die tekstuur van swaar kleigrond en sanderige grond verbeter.
3. Ken jou plante
Struike wat van nature in ’n woud se onderbos of op die woudrand groei, sal aantreklike lae en afgeslote plekkies skep. Krismisrose, japonika, oranje jasmyn (Murraya exotica) en Indiese meidoring (Raphiolepis indica) is enkele van die gewilde blomstruike wat jy veral in klam skadu kan plant.
Grondbedekkers verskaf tekstuur, beskerm die grond en skep ’n lowergroen tapyt. Blou senegroen (Ajuga reptans), hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum), mondogras en rankende vingerhoedjie (Asystasia gangetica) is geharde gunstelinge.
Bolplante gee in blomtyd loof en kleur. Boslelies, aronskelke, agapante en wilde irisse (Dietes-sp.) sal met hul blomme kleur verskaf.
Aksentplante soos boomvarings en drakebloedbome (Dracaena-sp.) en plante met groot blare soos akant, olifantsoor en kraanvoëlblom (Strelitzia-sp.) verskaf vorm en atmosfeer.
* Plant varings, vingerhoedjies en akelei om die gevoel van ’n feetjietuin te skep. Dit kan van saad of saailinge gekweek word.
The post Maak tuin in die skadu appeared first on Goeie Huishouding.