
Hulle grawe jou kosbare petunias uit, hardloop ’n pad deur jou gunsteling-blombedding of begrawe ’n been in die middel van die grasperk. Dis g’n wonder ons geliefde hondekinders is nie altyd ’n ywerige tuinier se beste vriende nie. Met ’n bietjie beplanning kan ’n tuin egter só uitgelê word dat troeteldiere en plante saam daarin kan floreer.
PATROLLIEPAADJIES
Honde patrolleer graag die buitewyke van ’n tuin en verjaag indringers soos eekhorings en voëls. Bestudeer jou hond se gunstelingroetes en lê dan interessante paadjies al langs die buiterande van jou tuin uit. Dit sal dit vir hulle makliker maak om oefening in te kry en hul rondtes te doen sonder om jou blombeddings te vertrap.
’N OOP RUIMTE
’n Oop ruimte vir speelplek is noodsaaklik. Hoewel ’n netjiese grasperk voldoende is, wees gerus ’n bietjie kreatief en skep ’n miniweiveld met wildegras. Dit bied meer geleenthede vir honde en katte om te verken en te speel. As hulle kan skoenlappers jaag en wegkruipertjie speel, sal hulle nie sommer gate grawe of uit verveeldheid verwoesting saai nie. ’n Weiveld bied ook lang grashalms waaraan troeteldiere kan kou, wat sal keer dat hulle jou blomme opvreet.
AFSPERRINGS
Sper blombeddings met ’n stewige buksboomheining af of plant ’n geharde grondbedekker soos ranktiemie as ’n buffer. Gebruik stukke dryfhout of rivierklippe om ’n duidelike grens tussen die speelplek en jou blombeddings te skep en om te keer dat delikater plante in die slag bly.
UITSPANPLEK
Honde is geneig om ná ’n uitputtende speelsessie op die koelste plek moontlik neer te plons, en dis dikwels in die middel van ’n skaduryke blombedding. Rig vir hulle ’n koel lêplek onder ’n boom of op die stoep in met ’n groot waterbak en ’n gemaklike hondebed. Dit sal jou bedding na ’n minder aanloklike uitspanplek laat lyk.
VertiKALE TUINE
As jy ’n klein tuin het of ’n hond wat van grou hou, oorweeg van die tegnieke van vertikale tuine (besoek http://www.goodhousekeeping.co.za/af/home-organising/how-to-create-a-vertical-garden/) om jou kruie, groente en blomme buite troeteldiere se bereik te hou en meer beweegruimte vir hulle te laat.
GRAWEPLEK
Om gate te grawe is ongelukkig in party honde se gene. As jou hond dit nie kan afleer nie, skep ’n hondvriendelike sandput in ’n skaduryke hoekie waar hy na hartelus kan delf. Honde sal dit veral op warm dae geniet wanneer baie van hulle verkies om ’n middagslapie in ’n holte in die koel grond te vat.
The post Maak jou tuin hondvriendelik appeared first on Goeie Huishouding.